|

AfriForum en Evolve Life besoek Laerskool Muldersdrif-leiers

Die burgerregteorganisasie AfriForum het in samewerking met Evolve Life se Manie Botha op 17 September 2021 by die Laerskool Muldersdrif besoek afgelê om die nuwe leiers te help ontwikkel.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en hoop te skep in skole. Elke kind in ons land verdien dit om die nodige leiding te kry om hul leierseienskappe te ontwikkel – ons kinders is immers die leiers van môre,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugleierskapsontwikkeling.

“Ons land se jongmense staar uitdagende tye in die gesig. Om die regte leierskapsgereedskap in ’n kind se leierskapsmondering in te bou is nie net ’n noodsaaklikheid nie, maar ook ’n diepe verantwoordelikheid van elke instansie en organisasie wat met kinders werk. Die leierskapsontwikkelingwerkswinkel is deel van die slypproses om ons land se kosbare diamantkinders se potensiaal te ontgin. Dankie, aan Laerskool Muldersdrif en ook AfriForum wat toegewyd is om in ons jeug te belê en hulle op te bou,” sê Manie Botha, spreker en lewensafrigter van Evolve Life.

“Die kinders van vandag is ons leiers van die toekoms, vir baie kinders kom leierskap natuurlik by ander moet dit ontwikkel word. Hier by Laerskool Muldersdrif is dit vir ons uiters belangrik om al ons leerders bloot te stel aan geleenthede om hulle leierskapsvaardighede te ontwikkel. Hierdie ontwikkelingsessies van AfriForum en Evolve Life gee aan leerders die geleentheid om toepaslike kennis en vaardighede te bou,” sê Herman Byleveld, hoof van Laerskool Muldersdrif. “Almal moet een of ander tyd as ’n leier optree en dit is juis dan belangrik om oor die nodige kennis te beskik om die situasie toepaslik te hanteer. Ons wil graag vir AfriForum en Evolve Life dankie sê vir hulle moeite met ons kinders.”

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za of tania.scheepers@afriforum.co.za as jou kind se skool by AfriForum en Evolve Life se leierskapsontwikkelingprojek betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings