| | |

AfriForum hou vreedsame protesaksie in Senekal

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy ondersteuners vandag in Senekal toegespreek tydens ’n vreedsame protesaksie teen plaasmoorde.

Dit volg op die moord op Brendin Horner (22), wat onlangs wreedaardig vermoor is op ’n plaas buite dié dorp. Die beskuldigdes in die saak het vandag weer in die hof in Senekal verskyn.

“AfriForum is trots daarop dat ons ondersteuners vandag gewys het dat ’n mens woedend kan wees oor plaasmoorde en die terreur wat op ons plase plaasvind, maar terselfdertyd op ’n baie geordende wyse hul ontevredenheid kan toon,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wat ook die verrigtinge bygewoon het. “Ons wou ook wys dat ons nie deur die EFF geïntimideer sal word om ons werk te staak nie. Ons boodskap is baie duidelik: Ons fokus op die werklike probleem van terreur op ons plase.”

AfriForum het by dié samekoms sy planne om plaasmoorde te bekamp aan sy ondersteuners bekend gemaak.

Die burgerregteorganisasie het tans 157 buurtwagte regoor die land, met nagenoeg 12 000 aktiewe lede, 4 612 analoogradio’s, 61 herleistasies, 708 nasionale radio’s, ’n traumaberadingseenheid en verskeie beheerkamers. Ondersteuning word aan buurt-, plaas- en plotwagte gebied in die vorm van regshulp, asook spesifieke regshulp aan boere wat hulself en hul gesinne teen aanvallers beskerm het. Lugsteun word tydens operasies gebied met 14 hommeltuie en 34 hommeltuigvlieëniers.

“Ons wil boere aanmoedig om by hul plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke te raak om sodoende ’n veilige ruimte te skep. Dié betrokkenheid sal ook daartoe lei dat alle veiligheidsrolspelers kundig betrek word,” sê Kriel.

Ander sprekers wat teenwoordig was by die byeenkoms sluit in Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Soks Masoka van African Farmers’ Association of South Africa (AFASA), en dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Soortgelyke plasings