AfriForum mobiliseer meer as 5 200 mense teen misdaad


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope naweek meer as 5 200 mense regoor die land gemobiliseer tydens ’n nasionale gemeenskapspatrollie. Nagenoeg 282 veiligheidstrukture en -instansies het landwyd aan die misdaadvoorkomingsoperasie deelgeneem.    

“Hierdie magsvertoon is ’n voorbeeld van hoe gemeenskappe hul strate in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Valke, privaat sekuriteit en gemeenskapstrukture by misdadigers terugneem. Drie moordverdagtes is in samewerking met die SAPD in hegtenis geneem en daar was ook talle beslagleggings op dwelms,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Cameron meen dit is verblydend om te sien dat soveel mense begin saamwerk om die misdaadoorlog in Suid-Afrika te beveg en voeg by dat dit die enigste manier is om mense se veiligheid in die land te verseker.
Die instansies wat deelgeneem het sluit AfriForum-buurtwagte en verskeie sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike besighede, paramediese dienste en verkeersafdelings in.

Soortgelyke plasings