|

AfriForum se Mooirivier-buurtwagte hou hul gemeenskappe veilig

Die AfriForum-buurtwagte in Mooirivier het op Maandag 20 Maart saam met die SAPD en ander veiligheidsrolspelers hulle gemeenskappe veilig gehou tydens die EFF se #NationalShutdown-protesaksie.  Die meeste buurtwagte het reeds verlede naweek ekstra patrollies begin ry en buitebande wat op talle plekke afgelaai is, verwyder. Die AfriForum-buurtwagte wat deelgeneem het is Bothaville, Deneysville, Parys, Sasolburg, Songloed (Klerksdorp), Potchefstroom, Stilfontein, Orkney, Ventersdorp, Wolmaransstad asook Hartbeesfontein se buurt- en plaaswag.

Sedert Sondagaand is die patrollies nog verder verskerp en het die buurtwagte die situasies in al die dorpe fyn gemoniteer. Daar was goeie samewerking met die SAPD en daar was nie in een van die areas in die Mooirivierstreek ernstige voorvalle nie. In hierdie tyd is ander misdadigers, wat nie noodwendig met die onluste verbind is nie, ook in hegtenis geneem. Die buurtwagte het ook hul gemeenskappe deurlopend op hoogte gehou met inligting oor paaie en areas wat vermy moes word.

“Die Mooirivier-buurtwagte doen uitstekende werk in hulle onderskeie gemeenskappe om hulle mense veilig te hou. Die dankbaarheid van die gemeenskappe het geblyk uit die wyse waarop hulle die buurtwagte bedank het en selfs soms vir hulle verversings gebring het. Ek wil graag van my kant af elke buurtwaglid in die Mooirivierstreek bedank vir hulle onbaatsugtige diens,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings