|

AfriForum-veiligheidstrukture verleen hulp tydens Jagersfontein-tragedie

AfriForum se veiligheidstrukture het die afgelope naweek onmiddellik gereageer op versoeke vir hulp tydens die tragiese ramp wat Jagersfontein getref het. Groot dele van dié Vrystaatse dorpie is oorstroom ná ’n damwal gebars het.

AfriForum het twee hommeltuie ontplooi om reddingspanne te help soek na vermiste persone en regstreekse inligting in te samel.

AfriForum Gemeenskapsveiligheid se uitgebreide radionetwerk is ook ingespan om kommunikasie tussen verskeie rolspelers te bewerkstellig. Die vloedwater het veroorsaak dat verskeie selfoontorings in die omgewing sonder krag was, wat kommunikasie byna onmoontlik gemaak het. AfriForum kon ook daarin slaag om met selfoondiensverskaffers te skakel om te verseker dat hul kragopwekkers na die geaffekteerde selfoontorings ontplooi, en sodoende sein na die gebied herstel.

“Ons is dankbaar dat ons veiligheidstrukture die vermoë het om te kan hand bysit tydens so ’n tragiese gebeurtenis. Alhoewel die nagevolge van die ramp vir lank nog blywend gaan wees, wys dit weereens die belangrikheid van goed georganiseerde gemeenskappe wat kan hande vat en saam deur die moeilikste tye beur,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za om by jou plaaslike AfriForum-veiligheidstruktuur betrokke te raak.

Soortgelyke plasings