|

AfriForum versoek aksieplan vir rioolstorting in Richardsbaai

AfriForum versoek van die uMhlathuse Plaaslike Munisipaliteit om ’n geskrewe aksieplan om die gereelde rioolstorting in Veldenvlei in Richardsbaai op te los, aan dié burgerregteorganisasie te stuur. Dit volg nadat inwoners in hierdie gebied alreeds 10 jaar sukkel om die probleem opgelos te kry.

In ’n brief wat op 23 Februarie aan die munisipale bestuurder gestuur is, versoek AfriForum ook om die rooster wat die munisipaliteit se aksies demonstreer om hierdie probleem te takel, onder oë te kry.

“Die situasie het ondraaglik begin raak as gevolg van die gereelde besoedeling en hoë vlakke van E.coli in die water. Dit besoedel nie net die varswaterstroom nie, maar ook die vislewe in die Mzingazi-meer. Ongeag na jare se klagtes, eis ons nou ’n drastiese oplossing vir hierdie probleem,” het Sias van Schalkwyk, inwoner van Veldenvlei, gesê.

AfriForum het die uMhlathuse-munisipaliteit 14 dae gegee om ’n aksieplan voor te stel. Tot op hede is nog geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie.

“Die uMhlathuse Plaaslike Munisipaliteit word gereken om onder die top 10 beste munisipaliteite in Suid-Afrika te wees en ons hoop dat hierdie probleem spoedig opgelos sal word. AfriForum sal strafregtelike klagtes oorweeg, indien ons versoek nie nagekom word nie,” het Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal, gesê.

Die gemeenskap word aangemoedig om by die AfriForum-tak in Richardsbaai betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Richardsbaai” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings