| |

Arcon Park-oordragstasie tjoef-tjaf opgeruim

Die Arcon Park-oordragstasie in Vereeniging, waar vullis geberg word voordat dit na ’n stortingsterrein geneem word, was tot onlangs toegegroei onder gras, bossies en bome. AfriForum se Vereeniging-tak het verlede week (4 Mei) ingetree en saam met Red Door Properties, Arcon Park Residents’ Association (APRA), Transmart en die toegewyde inwoners van Arcon Park die hele oordragstasie bykans nuut gemaak.

Die vrywilligers het die sypaadjie se gras gesny, onkruid uitgehaal, bome gesnoei en die sementblad van die oordragstasie skoongemaak. “Danksy die samewerking deur die vrywilligers en plaaslike ondernemings is die Arcon Park-oordragstasie vinnig en doeltreffend skoongemaak. Die Arcon Park-gemeenskap het sowaar hierdie oordragstasie in iets omskep waarop die inwoners trots kan wees,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Innis Erasmus, voorsitter van AfriForum se Vereeniging-tak, sê dit is goed om te sien dat hierdie gemeenskap so veerkragtig geword het en die inisiatief geneem het om die Arcon Park-oordragstasie skoon te maak. “Dit is maar ’n deel van die impak wat gemaak kan word as gemeenskappe saamstaan vir ’n gemeenskaplike doel.”

Die suksesvolle opruiming van die Arcon Park-oordragstasie beklemtoon AfriForum se verbintenis tot omgewingsrentmeesterskap en gemeenskapswelstand. AfriForum se Vereeiging-tak bedank alle deelnemers en vennote vir hul toewyding en ondersteuning. Saam het ons ’n tasbare verskil gemaak in die verbetering van die lewenskwaliteit in Arcon Park.

Soortgelyke plasings