|

Delmas-tak loods skoonmaakaksie

AfriForum se Delmas-tak het op 12 Augustus in samewerking met lede van die vrywilligersgroep Delmas Herleef en The Wild Bunch MC Revolution Chapter, ’n plaaslike motorfietsklub, die ingange na uitbreiding 4 in die dorp en etlike leë erwe in die gebied getakel en rommel opgetel. Dié aksie is geloods omdat die vullis die dorp onooglik maak en inwoners moedeloos laat voel.

Die skoonmaakaksie het onder die wakende oog van die Delmas-tak se ondervoorsitter, Jolene Rheeder, plaasgevind. Die Rheeders se oranje trekker, nou al standaard-“AfriForum-toerusting” tydens skoonmaakaksies, was ook weer hard aan die werk met Hennie Rheeder aan die stuur.

Rheeder en sy helper, Robert Mahlangu, het terselfdertyd ’n AfriForum-buurtwaglid se veiligheid opgeskerp deur ’n verwaarloosde, vakante kleinhoewe aangrensend aan haar eiendom skoon te maak. Dit volg nadat sy ’n paar keer lastig geval is deur booswigte wat daar skuiling gesoek het.

“Dit was hartverblydend om te sien hoeveel vrywilligers, insluitend jong kinders, vir die skoonmaakaksie opgedaag het. Aangesien Delmas die titel Dorp van die Jaar vir 2023 onder leiding van die bekwame Delmas Herleef-groep verower het, is dit vir ons ’n groot eer dat lede van dié groep by ons skoonmaakaksie betrokke was,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

Klik hier en raak by AfriForum se Delmas-tak betrokke.

Soortgelyke plasings