Huldeblyk met die afsterwe van prof. Jacques van der Elst

AfriForum en Kraal Uitgewers neem met groot leedwese kennis van die afsterwe van prof. Jacques van der Elst, een van die groot kampioene vir Afrikaans en moedertaalonderrig. Hy is vanoggend om 07:20 na ’n kort lyding oorlede.

Nadat prof. Van der Elst in 1957 aan die Hoërskool Cillié, in Port Elizabeth matrikuleer het, het hy ’n aanstelling as leerling verslaggewer in diens van Die Oosterlig in Port Elizabeth aanvaar. In 1960 verwerf hy ’n beurs en begin sy BA-studie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO). Daarna behaal hy ’n BA Honneursgraad aan Rhodes Universiteit, MA-graad met lof Universiteit van Port Elizabeth en doktorsgrade aan die Rijksuniversiteit Utrecht in Nederland en die Universiteit van Natal. In 1973 word hy as senior lektor vir Afrikaans en Nederlands aan die PU vir CHO aangestel; in 1979 word hy tot professor aldaar bevorder; in 1984 as hoof van die departement Afrikaans en Nederlands aangestel; in 1995 voltydse dekaan van die fakulteit Lettere en Wysbegeerte; van 2002 tot 2005 hoof van die universiteit se kantoor vir internasionale betrekkinge; van 2005 tot 2012 hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en na sy aftrede die eerste hoof uitvoerende beampte van die Afrikaanse Taalraad.

Deur die jare het hy vele toekennings ontvang vir sy rol om Afrikaans en Nederlands en verhoudinge tussen die taalgemeenskappe te bevorder, asook om navorsing op die taalterrein te doen en te inisieer. In die Solidariteit Beweging het hy onder meer in die adviesraad van Akademia gedien.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake is die bydrae wat prof. Van der Elst op al hierdie terreine gelewer het, van onskatbare waarde. “In moeilike tye het hy die band tussen Afrikaans en Nederlands lewendig help hou, Afrikaans as taal help groei en die hoëfunksiestatus daarvan op ’n vaste fondament help plaas. Tot met sy heengaan het hy aan publikasies vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gewerk wat hulde aan die Hertzogpryswenners bring – ’n boekereeks van sleutelbelang vir die taal. Benewens sy akademiese rol, is wat ons wat hom geken het en die voorreg gehad het om saam met hom te werk, die meeste gaan mis, die deernis waarmee hy sy medemens benader het. Dít, en sy wonderlike sin vir humor en skatkis van kennis. Sy geesdrif vir Afrikaans was aansteeklik en sal ’n voorbeeld en inspirasie bly. Hy sal op vele terreine gemis word.”

“Kraal Uitgewers bring graag hulde aan prof. Van der Elst vir die uitsonderlike bydrae wat hy gedurende sy loopbaan gemaak het vir die verryking, beskerming en uitbouing van die Afrikaanse taal. Sy diepgaande kennis van die Afrikaanse letterkunde en innemende geaardheid laat ’n diep leemte in die Afrikaanse gemeenskap wat nie maklik gevul sal kan word nie,” het Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers gesê.

AfriForum en Kraal dra ons innige simpatie aan sy vrou, Betsie, hulle kinders en kleinkinders oor en bid hulle die Here se vertroosting toe.

Soortgelyke plasings