|

Kimberley-buurtwag tref voorsorg vir betogings

Die AfriForum-buurtwag, SAPD, SANDF, NCA, ProGaurd, Scorpsecen plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Kimberley het Sondag deelgeneem aan ’n operasie om die stad teen die beplande betogings op 20 Maart te beveilig. Gedurende die operasie het die buurtwag en GPF ondersteuning aan die polisie gebied tydens ’n skietvoorval in Greenpoint.

“Tydens die operasie het al die rolspelers saamgewerk om bande te verwyder en verskeie vure te blus,” sê Gerhard Schoeman, operasionele leier vir AfriForum se Kimberley-buurtwag.

Hierdie operasie is hoofsaaklik gehou om sigbaarheid in die stad te verseker en om die SAPD by te staan waar hulle hulp sou verlang. Die brandpunte in die stad is besoek om seker te maak dis veilig en dat daar geen gevaar deur die dag en aand op inwoners wag nie.

“Ek wil my dank uitspreek teenoor plaaslike gemeenskapslede en die polisie wat meer as 12 ure lank met hierdie operasie besig was – dit gee inwoners die gemoedsrus dat veiligheid altyd ’n prioriteit sal wees,” sê Lize-Mari van der Linden, die distrikskoördineerder vir die Karoo.

Belangstellendes wat wil aansluit by AfriForum se Kimberley-buurtwag is welkom om ’n boodskap te stuur na 066 321 1074.

Soortgelyke plasings