|

Malema terug in hof oor afvuur van vuurwapen ná druk deur AfriForum

Julius Malema, leier van die EFF, en sy lyfwag Adriaan Snyman het vandag weer in die streekhof in Oos-Londen verskyn ná volgehoue druk deur AfriForum. Die burgerregteorganisasie het klagtes teen Malema ingedien ná beeldmateriaal aan die lig gekom het waar dit lyk of Malema ’n vuurwapen in die openbaar afvuur. Die wapen is deur Snyman aan Malema gegee.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolg Malema vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude of openbare gebied sonder goeie rede om dit te doen, asook die besit van ’n vuurwapen en ammunisie sonder die nodige lisensie en magtiging. Die aanklaer het vandag besluit om die beeldmateriaal in die hof te wys. Malema en Snyman se prokureurs het egter hierteen geargumenteer en gesê dat die geldigheid van die video nie bewys kan word nie, en ook dat die bron van die video nie bevestig kan word nie.

Die staatsaanklaer adv. Joel Cesar het aangevoer dat twee ooggetuies wat op die toneel teenwoordig was, reeds getuig het dat die gebeure wat in die video uitgebeeld word, wel plaasgevind het.

Malema se regspan het ’n “verhoor binne ’n verhoor” versoek om te bepaal of die beeldmateriaal toegelaat moet word.

Landdros T. Olivier het die saak tot Dinsdag 31 Januarie uitgestel om oor die verskillende argumente te besin.

“AfriForum is tevrede met die feit dat die saak voortgaan. Dit is jammer dat hierdie saak al so lank sloer maar ons sal voortgaan om die saak baie fyn dop te hou want politici soos Julius Malema is nie bo die reg verhewe nie, al dink hulle dalk so,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings