|

Stilfontein-tak, Orkney-buurtwag en VF Plus herdenk konsentrasiekampdag

Die AfriForum-tak in Stilfontein, die AfriForum-buurtwag in Orkney en die VF Plus het op 16 Junie ’n aksie ter herdenking van die verskroeideaardebeleid en konsentrasiekampgeskiedenis by Klerksdorp se konsentrasiekampbegraafplaas gehou. Die geleentheid is deur 30 mense bygewoon.

Marius Trollip, ondervoorsitter van die Stilfontein-tak, het gesels oor die konsentrasiekampe en die ontstaan daarvan, die gebeure in die kampe en die onwaarhede wat daaraan gekoppel is. Pieter du Preez van die VF Plus het meer vertel oor die verraaiergrafte en wat werklik gebeur het, sowel as die grafte van die Scott-egpaar na wie die plaaslike Duff Scott-hospitaal en die Stilfonteinmyn vernoem is. Joanita Labuschagne, sekretaresse van die Stilfontein-tak, het gepraat oor die volksheld, Koos de la Rey, en sy reisgenoot, Siener van Rensburg. Casper Labuschagne, Orkney-buurtwagleier, het vertel van sy oupa, Danie Theron, wat die eerste skoot by Paardekraal afgevuur het en die Britse kommandant noodlottig gewond het, sowel as sy ouers wat die heel eerste persone was wat in die Klerksdorp-Konsentrasiekampbegraafplaas begrawe is. Na afloop van die verrigtinge is stokbrood gemaak.

“Dit is wonderlik dat hierdie tak die moeite gedoen het om hierdie belangrike dag in ons volksgeskiedenis te herdenk. Ek het groot waardering vir die moeite wat hierin gegaan het en dat hulle ons jeug betrek het, wat nie meer hierdie geskiedenis in die skool leer nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Indien jy wil betrokke raak, kontak vir Trollip by 082 494 4123.

Soortgelyke plasings