|

Strafbare manslag-saak teruggetrek ná SAPD versuim om dodelike botsing te ondersoek

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is weer eens genader om ondersoek in te stel ná die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se versuim om ’n forensiese ondersoek in ’n saak van strafbare manslag te voltooi. Dit volg 19 maande ná Danielle van Jaarsveld in ’n motorongeluk om gekom het. Gareth Webster word daarvan beskuldig dat hy na bewering op 6 November 2022 teen ’n hoë spoed gery het toe sy Audi SQ5 met Van Jaarsveld se Kia gebots.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Van Jaarsveld se suster, Desiree Keating in hierdie saak. Die privaatvervolgingseenheid het ’n skrywe aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig om hul kommer uit te spreek oor die ondersoek en om hulle te maan dat die ondersoek onnodig sloer en dit blyk of daar geen haas is om die ondersoek te voltooi nie. Die George SAPD is verantwoordelik vir die ondersoek.

Die noodlottige ongeluk het op Swartvlei Strandweg plaasgevind, slegs ’n paar honderd meter van die Sedge Link-gholfbaan in Sedgefield, waar Webster en sy passasier ’n gholfdag bygewoon het. Beeldmateriaal van die ongeluk wys hoe die geweldige krag van die botsing die Kia agtertoe lanseer het – in die rigting waaruit die Kia gekom het – voordat die voertuig verskeie kere gerol het. Die SQ5 behoort aan Webster se werkgewer, Audi Centre George.

Van Jaarsveld en Monique van Zyl, haar skoonsuster en passasier, was op pad strand toe ten tyde van die ongeluk. Van Jaarsveld is onderweg na die hospitaal oorlede en Van Zyl het ernstige beserings opgedoen. Webster en sy passasier het byna ongeskonde daarvan afgekom.

Screenshot

Webster het op 3 Oktober 2023 vir die eerste keer op ’n klag van strafbare manslag in die hof verskyn. Die saak is egter op 13 Maart voorlopig teruggetrek ná dit talle kere uitgestel is aangesien die SAPD nie ’n forensiese verslag kon voltooi nie. Van Jaarsveld se familie is ook ingelig dat die ooggetuie verklarings en die beeldmateriaal van die ongeluk nie in die dossier ingesluit was nie. Die saak is nog nie weer op die rol geplaas nie.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, meen dat daar genoegsame bewyse is om Webster te vervolg. “Die polisie se onvermoë om ’n ongeluksverslag te voltooi, gevolg deur die terugtrekking van die strafbare manslag-saak teen Webster, is net nóg ’n voorbeeld van die staat se lustelose houding  vir die erns van die oortreding en die implikasies van hierdie vertragings op Danielle se familie.”

Keating sê dit was die volslae mislukking van die SAPD om die voorval behoorlik te ondersoek en die voortslepende vertragings wat daarmee gepaardgaan wat hulle genoop het om die privaatvervolgingseenheid om hulp te nader. “Ons familie is werklik bedroef en gefrustreerd oor die slakkepas waarteen die SAPD my suster, Danielle, se saak hanteer asook hulle houding jeens die ondersoek.”

“Dit is vir ons kommerwekkend om hulle skynbare vooroordeel en toegeeflikheid teenoor die beskuldigde te aanskou. Al wat ons familie wil hê is dat geregtigheid vir Danielle moet geskied. Ons weet dat daar ooggetuies, beeldmateriaal en die voertuie self is wat duidelik dui op Webster se beweerde oortreding. Ons het al male sonder tal ons kommer oor die tekortkominge met die ondersoek uitgespreek, veral oor die forensiese verslae. Dit is ontmoedigend om te weet dat die beskuldigde steeds op vrye voet is, die oorweldigende bewyse teen hom ten spyt,” sluit Keating af.

WAARSKUWING: Die beeldmateriaal kan sensitiewe kykers ontstel.

Soortgelyke plasings