|

Swellendam Munisipaliteit se wanbestuur bedreig veiligheid en gesondheid van gemeenskap

Die AfriForum-tak in Swellendam eis dringende optrede van die Swellendam Munisipaliteit om totale verval in die distrik te keer. Die munisipaliteit se onvermoë om vullisterreine effektief te bestuur hou ’n ernstige bedreiging vir die gemeenskap se veiligheid en gesondheid in. Die tak het op verskeie geleenthede versoek om die vullisterreine te oudit en die munisipaliteit te help om werkbare oplossings te identifiseer en implementeer maar die aanbod word verwerp.

Hennie Smit, verantwoordelik vir die plaaslikeregeringsake portefeulje by die Swellendam-tak, het in Februarie vanjaar met onder andere die munisipale bestuurder Anton Groenewald en met die afvalbestuurder Johan van Niekerk, vergader om AfriForum se aanbod voor te lê. Hoewel die aanbod toe verwelkom is het Van Niekerk kort daarna laat weet dat hulle onder geen omstandighede AfriForum se oudit kan laat plaasvind nie. Hulle het wel aan Smit dokumente verskaf wat inligting bevat oor verskeie vullisterreine in die Swellendam-area. Uit hierdie dokumente is dit duidelik dat ’n deeglike vullisterreinoudit dringend nodig is.

Die tak het in April weer ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig waarin hulle na aanleiding van die bevindinge in hul ontleding van die dokumente en in terme van die Nasionale Omgewingsbestuurwetgewing: Afval Wet 59 van 2008 ’n aantal kwessies uitgelig het.

Die tak verwys onder meer na ’n insident waarin ’n vlieënier van ’n ligte vliegtuig op ’n hoogte van meer as 2 000 m ’n plastieksak teëgekom het terwyl hy gereed gemaak het om te land. Sou die plastieksak deur die vliegtuig opgevang word kon dit katastrofiese gevolge hê.

Verder verwys die tak ook na die Bontebok vullisterrein wat ’n gradering van 55.8% ontvang het in September 2021 se nakomingsouditverslag – dit is heelwat laer as die vereiste vlak. Die laaste oudit wat in 2020 op die Barrydale vullisterrein gedoen is het dié vullisterrein ’n gradering van slegs 8.96% gegee.

Die toestand van hierdie vullisterreine het verreikende gevolge nie net vir die inwoners van die Swellendam munisipale distrik nie maar ook vir die omgewing aangesien dit bydra tot lug-, water- en grondbesoedeling. Dit blyk dat die Breederivier en Kliprivier reeds besoedel is as gevolg hiervan. Afgeleefde bande word by verskeie vullisterreine op ’n onwettige wyse weggegooi en afval word nie daagliks met grond bedek, soos deur wetgewing vereis word, nie wat ’n onwenslike reuk tot volg het en ’n broeiplek word vir ongewenste peste.

Die gasse wat vrygelaat word as gevolg van spontane vure op die vullisterreine is skadelik vir die inwoners van die omgewing. Die tak het ook verwys na persone wat afval herwin in die vullisterreine maar nie die nodige beskermingsdrag dra of protokol na kom nie – hierdie praktyke is dus gevaarlik vir hierdie persone en kan langdurige gesondheidsprobleme vir hulle inhou.

“Ons as AfriForum-tak het ’n hand van vriendskap aan die munisipaliteit uitgereik om te sien waar ons saam kan werk om Swellendam ’n veilige, mooi en gesonde omgewing te maak vir alle inwoners. Dit is egter uiters teleurstellend dat die munisipale bestuur toelaat dat hul eie kortsigtigheid die vooruitgang en gevolglik die welstand van Swellendam en sy inwoners bedreig. Swellendam se gradering in die onlangse blou en groen druppel verslag is net so kommerwekkend en wys dat daar iewers ’n skroef los is wat omgewingsake in Swellendam aanbetref,” sê Smit.

Soortgelyke plasings