| |

Worcester-tak kry nóg oë op die grond

In ’n poging om oral sy oë en ore op die grond te hou, het AfriForum se Worcester-buurtwag vandeesmaand talle veiligheidskameras laat installeer om gebiede met ’n hoë voorkoms van misdaad te monitor. Altesaam vier kameras is in dele van Worcester opgerig. Dié kameras help die buurtwag en ander wetstoepassers om booswigte in die gebied op te spoor en te volg.

“Hierdie tegnologie gee die tak en die gemeenskap ’n hupstoot om misdaad te bekamp, veral omdat daar ’n toename in die voorkoms van verskeie soorte misdaad in die omgewing is. Dit is uiters belangrik om alle beskikbare hulpbronne te gebruik en verhoudings met ander rolspelers te bou om die veiligheid van inwoners te verseker,” sê Jolize van der Merwe, voorsitter van AfriForum se Worcester-tak.

Die Worcester-tak beplan om hierdie projek verder uit te brei deur later nóg kameras op te rig, die buurtwag verder te versterk en samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), ander buurtwagte en sekuriteitsmaatskappye te bevorder.

“Gemeenskapsveiligheid was nog altyd een van AfriForum se belangrikste fokusareas en vanjaar word daar nog meer aandag daaraan gegee. Sonder die Worcester-buurtwag se getroue patrollering en die gereelde ondersteuning wat hulle aan die polisie en ander sekuriteitsmaatskappye bied, sou Worcester vandag baie slegter af gewees het,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum se Worcester-tak en buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings