AfriForum maak so!
Die nuwe musiekblyspel Die Afrikaner maak so kom in Oktober vanjaar op die planke by AfriForum Teater. Die temalied daarvan het reeds trefferstatus bereik. Dié teaterproduksie van AfriForum en die span van Inhoud Huis Musiek volg op suksesvolle musiekblyspele soos Die Gelofte: ’n Musiekblyspel en Die Kaplyn wat die afgelope twee jaar uit hierdie samewerking gebore is. Die Afrikaner maak so musiekblyspel speel af teen die agtergrond van die uitdagings wat ons voorgeslagte beleef het, hoe ons voorgeslagte verantwoordelikheid geneem het vir die uitdagings van hul tyd en hoe ons die toekoms bou.
ONS NEEM OOK VERANTWOORDELIKHEID VIR ONS EIE TYD
As organisasie staan AfriForum nie los van die brug wat ons geslag tussen ons en ons voorgeslagte moet bou nie. Inteendeel, ons neem ons verantwoordelikheid op. Soos wyle prof. Carel Boshoff gesê het dat “elke geslag verantwoordelikheid vir sy eie tyd moet neem”, neem AfriForum en die ander instellings van die Solidariteit Beweging, net soos ons voorgeslagte, verantwoordelikheid vir ons eie tyd. Ons onderskryf die standpunt wat die denker Edmund Burke in die 18de eeu gestel het dat die samelewing “’n kontrak is tussen dié wat reeds dood is, dié wat lewe en dié wat nog gebore moet word”. Só neem ons, soos Oom Paul Kruger dit gestel het, dit wat goed is uit die verlede en bou ons die toekoms daarop. Dit is vernuwendkonserwatief. Ons klou nie naarstiglik vas aan die verlede nie, maar neem (soos Kruger sê) die goeie uit die verlede en bou op vernuwende wyse die toekoms daarop deur die nuwe omstandighede en uitdagings van ons tyd in ag te neem. Vernuwendkonserwatief beteken ook dat ons wedersydse erkenning en respek tussen die onderskeie volke en kultuurgroepe in die land bevorder.
In hierdie uitgawe van Forum Tydskrif met die tema “AfriForum maak só!” sal jy talle voorbeelde kry van hoe AfriForum die bul by die horings pak om op vele terreine, binne die uitdagings van ons tyd, te bou aan ’n hede én toekoms waarin ons, ons gemeenskappe en nageslag blywend vry, veilig en voorspoedig kan leef hier aan die suidpunt van Afrika.
ONS VOORGESLAGTE SE VOORBEELD
Dit is onmoontlik om in hierdie artikel te wys op al die voorbeelde van hoe ons voorgeslagte verantwoordelikheid vir hul eie tyd geneem het om oplossings te soek. Daar kan wel na enkele voorbeelde verwys word. Die ontberinge wat ons
voorgeslagte in die eerste helfte van die 1800’s onder Britse heerskappy en aanvalle op die Oosgrens beleef het, het tot gevolg gehad dat ’n kerngroep mense hul toekoms in hul eie hande geneem het deur die Groot Trek aan te pak. Dit was nie maklik nie, maar met genade van Bo en deursettingsvermoë het dit tot gevolg gehad dat onafhanklike republieke in die sentrale en noordelike dele van die land tot stand kon kom waarbinne ’n toekoms gebou kon word.
Ná die terugslag met die verlies aan die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se vryheid, het ons voorgeslagte nie gaan lê nie en het hulle die Eerste Vryheidsoorlog met sukses aangepak om hul vryheid terug te wen. Ook ná verdere terugslae tydens die Anglo-Boereoorlog, die dood van duisende vroue en kinders in konsentrasiekampe en die verwoestende verskroeideaardebeleid, het ons voorgeslagte nogmaals nie tou opgegooi nie. Deur hul roeping in hul tyd op te neem, het
hulle gebou aan die vestiging van Afrikaanse skole te midde van die Britte se verengelsingsbeleid. Met die vestiging van die
Helpmekaar Beweging ná die Rebellie van 1914 het ons voorgeslagte nie net die basis geskep vir die opheffing van arm Afrikaners nie, maar ook vir vooruitgang. Met ’n “ons sal self”-ingesteldheid het ons voorgeslagte gebou om voorspoed te bou deur instellings soos AVBOB, Volkskas, Sanlam, Santam en vele meer te vestig. Ons voorgeslagte was natuurlik nie perfek nie. Uiteindelik was die basis waarop die land met ywer gebou is weens die demografiese werklikhede en morele vraagstukke van minderheidsoorheersing wat mettertyd ontstaan het, onvolhoubaar.
NÁ TERUGSLAE BOU ONS WEER!
Ons voorgeslagte het telkens die deursettingsvermoë en roepingsbesef gehad om te midde van terugslae nie boedel oor te gee nie, maar om opnuut te bou. Dié ingesteldheid is op 3 Augustus 1930, op die vooraand van die ingebruikneming van die Potchefstroom Universiteitskollege (PUK) se hoofgebou, goed verwoord toe Totius gesê het: “Werklik, as dié inrigting (die PUK) sou moes opgehef word, wat moet ons dan begin? Net maar wéér een oprig –dit is al wat ons sou kon doen!”
Hierdie kanniedood-ingesteldheid word ook treffend vervat in ’n brief wat ’n onbekende Boervrou op 4 Augustus 1902 geskryf het toe sy ná die Anglo-Boereoorlog na haar plaas teruggekeer het. Sy het geskryf: “Daar is nou vrede in die land, maar nie soos ons verwag het nie. Die twee klein Republieke bestaan nie meer nie. Almal van ons, het ons wapens afgegee. Maar ons moenie treur soos een wat geen hoop het nie. Ons moet glo en hoop en vertrou. Ons besit op die oomblik vier perde, twee muile en ’n paar skape. Gister het ek ’n emmer koring gesaai. Sodra ek kan, sal ek nog saai en plant. As Pa van Ceylon af terugkom, sal ons spoedig weer ’n boerdery op die been kan bring.”
AFRIFORUM MAAK SÓ – ONS BOU WEER!
Wanneer AfriForum en die Solidariteit Beweging weer bou, doen ons dit nie blindelings of sonder beplanning nie. Ons doen dit ook nie met ’n fatalistiese ingesteldheid, dat dit ’n gegewe is dat ons dit wat ons opbou weer sal verloor, nie. Daarom moet ons deeglik kennis neem van wat tot die terugslae van die verlede gelei het, daaruit leer en vernuwend na nuwe metodes kyk om vir ons gemeenskappe ’n volhoubare toekoms te bou.
Om volhoubaar te bou, moet ons pogings die morele hoë grond behou en op deeglike ontledings en beplanning geskoei wees. Ons moet ook in nederigheid besef dat sukses slegs met harde werk bereik kan word en afhanklik is van baie genade van Bo. Ons het hoop vir die toekoms en kan dankbaar wees dat ons reeds oor die afgelope twee dekades ’n stewige grondslag gelê het waarop AfriForum en ander instellings van die Solidariteit Beweging kan voortbou. Ons het die wete dat suksesverhale soos Akademia, Sol-Tech en AfriForum se 174 buurtwagte net enkele voorbeelde is van wat reeds in die
praktyk as moontlik bewys is. Ons het dus niks om te vrees nie, solank ons die vermoë behou om te bou. Daarom maak
AfriForum só: Ons bou …