|

AfriForum gaan nie verder appelleer teen haatspraaksaak-uitspraak wat algehele verbod op ou vlag beperk

Die burgerregteorganisasie AfriForum het in die lig daarvan dat die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein die Gelykheidshof se aanvanklike bevel dat “enige” vertoning van die ou vlag haatspraak is, gewysig het deur nou spesifiek “ongevraagde openbare vertoon” te verbied, besluit om nie teen dié uitspraak te appelleer nie.

AfriForum bly steeds gekant teen verbanningsbevele oor simbole. Ná deeglike bespreking het AfriForum besluit om nie verder regshulpbronne aan die ou vlagsaak te spandeer deur dit Konstitusionele Hof toe te neem nie. AfriForum sal wel die situasie bly monitor om te verhoed dat die vlagsaak die deure oopmaak vir toenemende verbanningsbevele op ander fronte.

Volgens Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, gaan AfriForum sy regshulpbronne nou toespits om die gevaarlike dubbele standaarde oor haatspraak in die huidige politieke orde en in die howe te beveg. “Daar is geen gronde dat ’n simbool wat sonder ’n oproep tot geweld vertoon word as haatspraak verklaar word, terwyl die Kill the Boer-dreunsang, waardeur die EFF moord op etniese gronde aanhits, deur die howe as aanvaarbaar beskou word nie,” sê Van Zyl.

“Die boere van ons land word steeds wreed geteister en geteiken deur die EFF se haatlike Kill the Boer-dreunsang. AfriForum se fokus is om, namens boere en die etniese minderheidsgroepe wat deur hierdie dreunsang in gevaar gestel word, hierdie skadelike dubbele standaarde te verslaan,” sluit Van Zyl af.

AfriForum wag tans nog vir ’n hofdatum in die Hoogste Hof van Appèl vir die Kill the Boer-saak.

Soortgelyke plasings