|

AfriForum bevraagteken regering se beplande skenking aan Kuba

AfriForum het vandag in ’n prokureursbrief aan die Department van Internasionale Betrekkinge en Samewerking ’n geskrewe verduideliking en redes geëis vir die aankondiging dat die regering ’n skenking van R50 miljoen aan Kuba wil allokeer.

AfriForum eis in die brief dat geen fondse na Kuba oorgeplaas moet word nie aangesien geen redes vir die besluit aan die publiek gekommunikeer is nie. Die organisasie se brief eis verder ook ’n verduideliking oor waar die fondse vir die skenking vandaan kom en hoe dit geregverdig kan word in Suid-Afrika se huidige sosio-ekonomiese konteks.

Die aankondiging van die skenking, is die nuutste skandaal in die berugte onlangse geskiedenis van samewerking tussen die ANC-regering en Kuba. Gedurende die COVID-19-pandemie is Kubaanse dokters ten duurste ontplooi , terwyl talle plaaslike mediese werkers steeds werkloos gelaat is. Verder moes R260 miljoen se COVID-19-medikasie, wat op ’n onregmatige wyse deur die Suid-Afrikaanse weermag ingevoer is, na Kuba teruggestuur word.

“Die skenking aan Kuba is ’n belediging vir die Suid-Afrikaanse publiek wat finansieel erg deur die pandemie getref is en reeds dekades onder die ANC se wanbestuur en korrupsie ly. Dit wys veral dat die ANC meer oor ideologiese beeldpoetsing, as die belange van sy eie burgers omgee,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Suid-Afrikaners  is besig om van hongersnood te sterf, maar die ANC vind dit gepas om broodnodige fondse aan Kuba te skenk. Net ’n party wat dronk op mag is en geheel en al voeling met die werklikheid verloor het, sal dit waag om sy burgers aan só ’n belediging te onderwerp,” sluit Duvenage af.

AfriForum het die Departement tot 11 Februarie 2022 gegun om op die skrywe te reageer en sal verdere stappe doen indien die Departement versuim om terugvoer te gee.

Soortgelyke plasings