|

Nylstroom-buurtwag neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum se buurtwag in Modimolle het op 14 April aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Hierdie patrollie is landswyd gehou om verhoogde sigbaarheid te handhaaf en nasionale kommunikasienetwerke sowel as sinkronisasie in te oefen. Dié buurtwag het saam met verskeie veiligheidsinstansies, sekuriteitsmaatskappye en die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gewerk. Die patrollie het omstreeks 18:00 Vrydagaand begin en het tot 06:00 Saterdagoggend geduur.

Agt lede van AfriForum se Nylstroom-buurtwag het deelgeneem en vier voertuie van AfriForum en ander veiligheidsinstansies het 620 km gedurende dié patrollie afgelê.

Sigbaarheid van veiligheidstrukture was die hoofdoel van die patrollie. Veiligheidsbaadjies vir die deelnemers, plakkers en dakligte vir voertuie het hierdie aksie moontlik gemaak. Sinkronisasie en skakeling met al AfriForum se buurtwagte is deur die AfriForum beheerkamer vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga behartig. Buurtwaglede kon op die operasionele Telegram-groep die presiese ligging sien van lede wat deelgeneem het.

“Ons bedank elke lid vir hulle onbaatsugtige diens. Hierdeur sien ons hoe gemeenskappe, professioneel, gedissiplineerd en binne die raamwerk van die wet eienaarskap van hulle eie veiligheid neem. Op hierdie manier word ’n netwerk van samewerking gevestig om ’n voorspoedige voortbestaan te verseker. Ons belangrikste wapen is ons skakeling en sinkronisasie. Kriminele onttrek hulself van ’n gemeenskap wat sigbaar en paraat is, en saamwerk,” sê Magdel Jansen van Vuuren, distrikskoördineerder vir Limpopo.

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings