|

AfriForum se Lichtenburg-tak herstel nóg ’n pad danksy hulp van ondernemings

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het op 21 September 2021 nog ’n teerprojek in Diamantstraat voltooi. Die totale omvang van die projek is ongeveer 120 m2 en nege ton teer is vir dié herstelwerk gebruik. Die hoofborge vir hierdie projek is Markram Transport en MJ Toetsstasie.

“Ons het vanjaar al baie werk aan die dorp se paaie gedoen. Daar is egter nog baie dele van die dorp wat in ’n haglike toestand is omdat dit vir baie jare nie onderhou is nie. Ons doelwit is om die projek op ’n volhoubare wyse te bestuur en dit is op hierdie stadium moontlik omdat ons baie goeie samewerking kry vanuit die gemeenskap. Sakeondernemings was tot dusver in staat om by te dra tot die meerderheid van die kostes van projekte in hulle area,” sê Steyn Kearney, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.

“Die skenkings wat ons tot dusver ontvang het, maak hierdie projekte moontlik. Ons daag daarom ander sakeondernemings in Lichtenburg uit om skenkings aan die tak te maak sodat ons die paaie nog verder kan verbeter tot almal se voordeel. ’n Voorbeeld hiervan is Eerstestraat waar ons reeds 30 ton teer gebruik het om herstelwerk aan die pad te doen en met die hulp van die gemeenskap kan ons die hele Eerstestraat herstel,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Kontak gerus vir Pine Pienaar, bestuurslid van die tak wat dié projek bestuur, by 082 371 5312. Word ook vandag nog deel van AfriForum se Lichtenburg-tak: SMS “Lichtenburg” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings