|

AfriForum stel amptelike samewerking met die HPG bekend

AfriForum en die HPG (Heritage Protection Group) het op Saterdag 22 Februarie 2020 in Ellisras hul amptelike samewerking aangekondig.

Die doel van dié samewerkingsooreenkoms is om op geweldsmisdaad te fokus en wedersyds ondersteuning te bied met onder meer hulp tydens plaasaanvalondersoeke, uitbreiding van die bestaande telekommunikasienetwerk, misdaadtoneelbewaring, lugsteundienste, mediese ondersteuning, spoorsnyvermoë en slagofferondersteuning gedurende traumatiese voorvalle.

AfriForum en HPG beplan om gedurende 2020 gesamentlike protospanne in Limpopo te vestig om te verseker dat samewerking verbeter en kommunikasiemisverstande verhoed word.

“Ons kan nie slegs op ons eie vermoëns staatmaak nie. Om ’n merkwaardige verskil te maak, moet ons alle veiligheidsrolspelers betrek. Ons almal se doelwit is uiteindelik om misdaad suksesvol te bekamp,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die Noordstreek.

 

“Hoe meer organisasies op voetsoolvlak hande vat, hoe makliker gaan dit word om die onmiddellike omgewing waarin ons woon en werk ’n veiliger plek te maak,” sê Sakkie Louwrens, HPG-direkteur.

Soortgelyke plasings