Ons is Afrikaners
Onderwys- en leierskapprojekte
#EkIsWondermeisie
Meisies van vandag, is die vroue van môre!
“In ’n gebroke en mededingende wêreld is dit juis nodig om meisies te bemagtig om uit te staan in hierdie wêreld deur hulle aan te spoor om net hulself te wees. Met die #EkIsWondermeisie-veldtog word baie elemente van AfriForum se teenboelieveldtog gebruik. Daar word gesels oor die belangrikheid van selfwaarde en dat ons ons waarde nie in hierdie wêreld moet soek nie, maar dat ons klaar waardig is in God se oë. Meisies is geneig om hulself af te breek deur hulself met ander te vergelyk en die gebruik van sosiale media – dit knak baie keer hul selfvertroue. Dit is belangrik dat meisies ook op so manier bemagtig word dat hulle moet besef hul liggame ’n tempel van Jesus Christus is, hulle hul eie liggame moet respekteer en bewaar en dat hulle liggame ook deur ander gerespekteer moet word. #EkIsWondermeisie leer meisies ook om hulle volle wapenrusting aan te trek,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.
Meisie tot Mens
Die e-boeke Meisie tot Mens (1 en 2) is geskryf deur Bernice Schutte (Fearlessly Fit Female), die geliefde “tannie”, en sy is ook ’n blogger op die Afrikaanse platform Mooistevrou. Hierdie e-boeke bemagtig ons wondermeisies gedurende hul grootwordjare en om hulself te aanvaar net soos hulle is, selfs al kom daar verandering. Ons deel graag hierdie e-boek met ons wondermeisies – weet net, jy is nie alleen nie. Dit is jou eerste stap om jouself as ’n “nuwe” vrou te ontdek en te leer ken. Maak die beste van hierdie seisoen.
Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen. Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur. God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan. As ek dit probeer verstaan, besef ek my kop is te klein. En as ek klaar probeer dink het oor U, het ek nog steeds met U te doen. – Psalm 139:13–18
Die e-boeke is GRATIS beskikbaar:
- Meisie tot Mens 1: https://heyzine.com/flip-book/ac3a401bc0.html#page/1
- Meisie tot Mens 2: https://heyzine.com/flip-book/47dac36aa1.html#page/1
- Meisie tot Mens 3: https://heyzine.com/flip-book/dff25fde9f.html