Datum gestig
26 Maart 2006
AfriForum-ondersteuners
300 141
AfriForum-takke
165
AfriForum-buurtwagte
177
Vrywilligers
~ 10 000

AfriForum in ’n neutedop

2006 gestig as teenvoeter vir die apatie wat in die vroeë 2000’s onder Afrikaners geheers het. Hierdie onttrekking het aan die regering vrye teuels gegee om die Grondwet na sy eie goeddunke toe te pas en te interpreteer. AfriForum is te midde van dié omstandighede gestig as die waghond om die belange van minderhede in die land, en veral dié van die Afrikanerminderheid, met mening te beskerm en dié gemeenskappe se regte op te eis. Met elke projek, veldtog en hofsaak bring AfriForum Afrikaners en ander minderheidsgemeenskappe nader aan ’n toekoms waar mense vry, veilig en voorspoedig kan leef.

Om vandag aan die toekoms te bou wat ons môre wil lééf, spits AfriForum sy aksies toe op vier fokusareas:

  1. #OnsSalSelf: Ons wag nie op ander nie – ons maak self planne en word by die dag meer onafhanklik van die staat.
  2. Veiligheid: Ons beveilig ons gemeenskappe.
  3. Magsmisbruik en rassisme: Ons veg vir geregtigheid.
  4. Ons is Afrikaners: Ons beskerm ons taal, identiteit, kultuur en geskiedenis.

Die suksesse van 2025 en 2026 (tot dusver)

In 2025 en tot dusver in 2026 het AfriForum uiteenlopende suksesse behaal in onder meer die howe, in gemeenskappe en deur die organisasie se privaatvervolgingseenheid. AfriForum het ook daarin geslaag om Afrikaans op ’n kleurvolle wyse te vier.  

AfriForum se suksesse in die howe

In 2025 en 2026 beklink AfriForum ’n rits regsoorwinnings wat munisipaliteite en staatsinstellings se onbillike praktyke in die kiem smoor; onbekwame munisipaliteite in die bek ruk; en onreg takel. Hier is enkele van die jaar se grootste regsuksesse:

Wat lê voor in 2026?

Teen Mei 2026 het AfriForum 21 sake hangende gehad, waaronder:

FEIT: Die organisasie het vir 2026 ’n totaal van R14,2 miljoen begroot vir regsaksies.

AfriForum se suksesse in gemeenskappe

AfriForum se takke, buurtwagte en buurtspanne se suksesse is sigbaar in skoner dorpe, veiliger paaie en buurte, opgeleide buurtwaglede en vele meer.

Hier is enkele suksesse wat AfriForum se takke en buurtspanne reeds in die eerste vyf maande van 2026 behaal het:

  •  ’n Totaal van meer as 450 takprojekte is van Januarie tot Mei 2026 aangepak en afgehandel.
  • 116 ton teer is ingespan om slaggate te herstel
  • 81,4 ton herwinningsmateriaal is verwerk
  • 119 ton vullis is verwyder
  • 1 045 liter verf is gebruik om onder meer padmerkers oor te verf
  • 11 258 vullissakke is gevul tydens skoonmaakaksies

AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid koördineer onder meer die opleiding van buurtwaglede en bied ruimte vir inskakeling by die organisasie se veiligheidsnetwerke. Die suksesse wat tot dusver vanjaar hier behaal is sluit in:

  • In Januarie alleen het AfriForum se Gemeenskapsveiligheidsentrum in Bloemfontein bystand verleen in 95 noodsituasies.
  • In Februarie is AfriForum se buurtwag in Vredendal betrokke ’n klopjag waar 25 verdagtes aangekeer is wat verbind is met diefstal van sowat R3 miljoen se koperkabels.
  • In Maart is ’n nasionale massapatrollie aangebied waaraan AfriForum se 177 buurtwagte deelgeneem het.  
  • AfriForum stel in April sy jaarlikse plaasmoordeverslag bekend en in Mei is die organisasie se eerste Kubersveiligheidsgids vrygestel.
  • In Mei bied AfriForum se drie buurtwagte in die Baai hulp aan honderde slagoffers van die verwoestende storms.
  • In Mei het AfriForum sewe nuwe protospaninstrukteurs opgelei om die opleiding van AfriForum se spesialisveiligheidseenhede te hanteer.

GOED OM TE WEET: AfriForum se afdelings vir Gemeenskapsveiligheid en Gemeenskapstrukture beskik oor onder meer die volgende bates wat help om die veiligheid en netheid van gemeenskappe te verseker:

  • 1 497 koeëlvastebaadjies ter waarde van R5,3 miljoen
  • 298 veiligheidskameras ter waarde van R6,3 miljoen
  • 151 bossiekappers ter waarde van R900 000
  • 49 sleepwaens ter waarde van R1,6 miljoen
  • 34 hommeltuie ter waarde van R3,5 miljoen
  • 23 voertuie ter waarde van R7 miljoen

FEIT: AfriForum bied 33 verskillende opleidingsmodules aan lede in sy veiligheidsnetwerke. Dit sluit 23 vlak een-modules in en sluit onder meer opleiding in oor ysterpenlokvalle, inleiding tot mensehandel, teenkaping en vuurwapenwetgewing. Verdere vlakke se opleiding is meer gespesialiseerd en fokus op onder meer skietvaardighede, protospanopleiding, spoorsny en hondehantering.

 AfriForum se privaatvervolgingseenheid se suksesse

Die privaatvervolgingseenheid word gelei deur advokaat Gerrie Nel en dié eenheid vervolg en verseker dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hul verantwoordelikhede nakom. Enkele opspraakwekkende sake en suksesse van 2025 en 2026 sluit in:

Wat lê voor in 2026?

Van die belanghebbendste sake wat tans by AfriForum se privaatvervolgingseenheid hanteer word, sluit in:

  • Strafregtelike klagtes teen Julius Malema, leier van die EFF
  • Strafregtelike klagtes teen Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC

FEIT: Om AfriForum se privaatvervolgingseenheid se werksaamhede se verseker is R23,6 miljoen vir 2026 begroot.

Finansiële oorsig

AfriForum pas deurlopend gesonde en verantwoordelike finansiële bestuur toe. Die organisasie word jaarliks onafhanklik geoudit om te voldoen aan al die wetlike vereistes, en het sedert sy ontstaan elke jaar ’n ongekwalifiseerde ouditmening (dus ’n “skoon oudit”) ontvang.

As ’n openbare welstandsorganisasie en ’n maatskappy sonder winsoogmerk vereis die wet dat AfriForum jaarliks verslag aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling moet doen om te bevestig dat AfriForum se aktiwiteite strook met al die wetlike vereistes. AfriForum is trots daarop dat die organisasie deurlopend aan hierdie vereiste voldoen.

Die organisasie se totale maandelikse inkomste oor die afgelope jaar was nagenoeg R22,6 miljoen.

Die persentasietoedeling van AfriForum se 2026-begroting volgens uitkomste

Die grootste persentasie spandering in AfriForum se 2026-begroting gaan vir aksies gefokus op veiligheid (22%), gemeenskapselfstandigheid (21%) en geregtigheid (14%)

FEIT: AfriForum maak nie gebruik van “beïnvloeders” om sy handelsmerk uit te bou nie, en met beperkte hulpbronne waarmee daar verantwoordelik gewerk moet word, word daar tot ’n groot mate staatgemaak op mediadekking om AfriForum se beeld uit te bou. In 2025 het AfriForum rekordgetal-mediadekking geniet en is minstens 31 555 keer in plaaslike en internasionale media aangehaal. Die totale randwaarde van dié dekking was nagenoeg R929 miljoen en die reikwydte daarvan sowat 62,4 miljard.

AfriForum se personeel

AfriForum se krag lê in sy ondersteuners en daarom is die organisasie nederig dankbaar vir elke ondersteuner se volgehoue betrokkenheid in die groei van AfriForum. Die groei wat AfriForum in veral die afgelope dekade ondervind het, het aan die organisasie die nodige spierkrag gegee om sy rol met groter doeltreffendheid te vervul – ’n rol wat in die toekoms selfs meer nodig en kragtig sal moet wees.

AfriForum se ledetal het op Mei 2026 te staan gekom op 261 973 lede wat maandelikse bydraes maak en 5 639 lede wat jaarlikse bydraes maak. ’n Bykomende 32 799 mense is wel lede van AfriForum, maar dra nie finansieel tot die organisasie by nie. Dit bring die organisasie se totale ledetal op 300 141 te staan.

AfriForum se personeel

AfriForum se personeel is hoofsaaklik werksaam by die organisasie se hoofkantoor in Kloofsig, Centurion, die Kaapstad-kantoor in Bellville, en die Gemeenskapsveiligheidsentrum in Bloemfontein. ’n Kleiner aantal personeel – hoofsaaklik streekskoordineerders – werk in die onderskeie AfriForum-streke in elke provinsie. Die personeelgetalle lyk tans (Junie 2026) soos volg:

AfriForum179
AfriForum-groep132Personeel in die AfriForum-groep sluit onder meer personeel in wat werk vir AfriForum se herwinnings- en vullisverwyderingsinisiatiewe, buurtspanne, Forum Sekuriteit en die AfriForum-beheerkamers in Centurion en Bloemfontein.
Groottotaal311 

Jý laat AfriForum werk

AfriForum bedank die volgende instellings en individue wat die organisasie sterk maak –

  • elkeen van die nagenoeg 300 000 ondersteuners;
  • elke AfriForum-ondersteuner wat aktief betrokke is by een van die organisasie se 160 takke en 177 buurtwagte; en
  • elke onderneming wat deur skenkings help toesien dat projekte veral op takvlak suksesvol aangepak kan word.

AfriForum sien, danksy julle, uit na die toekoms wat ons saam as ’n gemeenskap vir môre bou.

WIL JY NOG WEET?
AfriForum-lede is welkom om die organisasie direk te kontak vir meer besonderhede oor AfriForum se werk, inkomste en uitgawes. Rig jou navraag aan diens@afriforum.co.za.