Veiligheid

Gemeenskapsveiligheid

Noodnommer: 063 639 7170

Radiokommunikasie

Wat is die doel van jou radio?

“Jou radio is soos ’n valskerm, as dit nie werk wanneer jy dit benodig nie, is die kanse goed dat jy dit nooit weer gaan nodig hê ni.” – Dawie Conradie

AfriForum het ’n nasionale radionetwerk met meer as 7 600 radio’s, wat versprei is tussen ons 177 buurt- en plaaswagstrukture. Die netwerk bevat ook 123 herhalers.

Vir die radiogebruiker is die radio ’n lewenslyn, ’n vinnige en effektiewe kommunikasiemiddel waarmee lede hulp kan ontbied in geval van ’n aanval of noodsituasie deur die druk van ’n knoppie.

Die radionetwerk is net so effektief soos die lede wat hom gebruik. Met ander woorde, jou radio is net effektief as daar iemand is wat daardie noodroep hoor en reageer.

Doel van ’n noodroep en wie moet dit hoor?

Die doel van ’n noodroep is om my buurtwag, mederadiogebruikers, bure en mense naby my te verwittig van ’n noodsituasie/aanval. Elke lid van die radionetwerk is uiteindelik verantwoordelik vir die veiligheid van sy mederadiogebruikers.

Hoewel die ideaal sou wees dat alle radiogebruikers sal reageer as daar ’n noodroep is, is dit nie altyd prakties moontlik nie. As gebruiker hoef jy nie noodwendig die ou te wees wat reageer na ’n aanval toe nie maar jy moet beskikbaar wees om hulp te verleen deur middel van die radio. Waar nodig, kan jy dienste soos noodmediesedienste, SAPD, brandweer en buurtwaglede ontbied.

Jy kan effektief van hulp wees slegs as jou radio aan is en by jou is. Jou tweerigtingradio moet TE ALLE TYE aan wees terwyl jy in die omgewing daarvan is.

Net soos jy gehelp wil word in tye van nood, moet jy beskikbaar wees om andere te help wanneer hulle nood ervaar. Ons kan nie op selfone staatmaak om ons te help in nood nie. As jy skrik, gaan die adrenalien na waar jy dit nodig het, jy verloor jou sig (tonnelvisie) en fyn motoriese spiertjies se werking, so jy sukkel om jou selfoon oop te maak en dan moet jy nog die groep ook soek. Selfoonseine kan gesaboteer word en kan beïnvloed word deur beplande of onbeplande kragonderbrekings asook beurtkrag.

Selfoontorings beskik meestal nie meer oor batterye nie want hierdie batterye word deur gewetenlose mense gesteel vir eie gewin.

Moet dus nie jou radio afskakel na radiotoets nie. As almal hulle radio’s afskakel, is daar niemand wat ’n noodroep kan hoor en daarop reageer nie.

Wees veilig en gebruik jou radionetwerk.