Veiligheid

Gemeenskapsveiligheid

Noodnommer: 063 639 7170

Veiligheidswenke

  • Huis- en haardbeveiliging

Dit is kritiek belangrik om te besef dat daar min of geen beskerming sal wees vanaf die owerhede tydens misdadige voorvalle, hetsy dit ’n inbraak, roof of grootskaalse onrus is. Alhoewel die SAPD ingevolge wetgewing die eerste linie van verdediging teen misdaad bly, is dit onrealisties om op hulle staat te maak. Daarom moet gemeenskappe self verantwoordelikheid neem vir hulle eie veiligheid en weerbaarheid.

Die eerste plek waar jy as gemeenskapslid kan begin om ’n veiliger omgewing te skep, is jou eie woning. Kom ons kyk na ’n paar wenke om jou huis en jou geliefdes beter te beveilig.

  1. 1. Moenie dink dat jy nié aangeval of oorrompel gaan word nie. Dit kan met enigeen gebeur. Besef dit nou.
  2. 2. Maak vrede met jou bure. Swak buurmanskap maak jou nog meer kwesbaar. Jou buurman is die eerste persoon wat jou kan bereik as jy in die moeilikheid is en ook die eerste wat kan sien as iets in jou omgewing of naby jou huis verdag of verkeerd lyk.
  3. 3. Sorg dat jy jou bure se telefoon- en selfoonnommers ken.
  4. 4. Sluit by ’n veiligheidstruktuur aan. As daar nie een in jou omgewing is nie, neem die leiding en begin een.
  5. 5. Raak veiligheidsbewus. Sorg dat ingangshekke, veiligheidsdeure en diefwering gesluit is sodat misdadigers nie kan inkom nie.
  6. 6. Sorg dat alarms, infrarooi strale en elektriese heinings altyd geaktiveer en in werkende toestand is.
  7. 7. Hou jou deure te alle tye gesluit, selfs as jy buite is. Dit verklein die kans dat iemand jou agter ’n deur in jou huis kan inwag. Te veel mense word onverhoeds betrap en ingewag as hulle uitgaan om byvoorbeeld die honde kos te gee.
  8. 8. Verander jou roetine van tyd tot tyd. Mense in woonbuurte, op plase en hoewes het dikwels ’n vaste roetine: Hulle staan op dieselfde tyd op, gee die diere op dieselfde tyd kos en sluit hulle hekke, deure en store op dieselfde tyd oop. Dit is inligting wat misdadigers kan gebruik om ’n aanval te beplan.
  9. 9. Maak seker dat die omgewing om die ingange na jou woning skoon is sodat jy ver voor jou uit kan sien. Aanvallers kan maklik klippe op die pad plaas om jou te forseer om stil te hou.
  10. Sny bome se ondergroei skoon; dit kan ’n skuilplek vir misdadigers wees.
  11. Ry verby jou erf as jy onraad vermoed en kontak jou sekuriteitsmaatskappy of medebuurtwaglede om dit eers te beveilig.
  12. 10. Laastens, moet onder geen omstandighede die veiligheid van jou huis ná donker verlaat om ondersoek te gaan instel na ’n probleem buite nie, soos wanneer daar vreemde geluide in jou tuin is, krane wat skielik begin loop of selfs mense wat huil. Boosdoeners dink enigiets uit om mense uit hulle huise te lok om ’n aanval te loods. Kontak jou medebuurtwaglede of sekuriteitsmaatskappy om jou te kom bystaan.
  • Ysterpenlokvalle

Maatreëls om ysterpenlokvalle te bekamp

Om die voorkoms van ysterpenlokvalle op Suid-Afrikaanse paaie te bekamp, word verskeie maatreëls tans ingestel. Wetstoepassingsagentskappe verhoog patrollies en toesig in hoërisikogebiede om kriminele aktiwiteite af te skrik en oortreders vas te trek. Openbare bewusmakingsveldtogte word ook gevoer om motoriste op te voed oor die tekens van ysterpenlokvalle, en hoe om te reageer in ’n noodgeval. Boonop word padinstandhoudingspogings verbeter om die veiligheid en integriteit van padinfrastruktuur te verseker. Hier is ’n paar eenvoudige wenke wat padgebruikers kan volg om ysterpenlokvalle te verhoed:

  1. Probeer om nie oor enigiets wat in die pad lê, te ry nie.
  2. Verminder snelheid om die kans te vergroot om voorwerpe in die pad betyds raak te sien.
  3. Indien die voorwerp in die pad so groot is dat dit jou voertuig kan beskadig, verminder drasties snelheid, en ry stadig daaroor.
  4. Indien die omstandighede dit toelaat, ry “wydsbeen” oor die wit middelstreep, dit kan die moontlikheid verminder om ’n ysterpenband raak te ry.
  5. Hou ’n volgafstand van ten minste 5-6 sekondes van die motor voor jou, sodat jy kan sien as daar ’n verandering in sy patroon van bestuur is.

Onthou dat die ysterpenlokval net ’n tegniek is wat deur kriminele elemente gebruik word om jou tot stilstand te dwing en jou kosbare besittings en geld op ’n gewelddadige wyse van jou te vervreem. Wanneer jy ’n pad aandurf, is daar verskeie dinge wat jy kan doen om jou veiligheid te verseker en die risiko te verminder om ’n teiken te word:

  1. Beplan jou roete noukeurig: Voordat jy jou reis aanpak, assesseer die gebiede waardeur jy gaan reis en kies die veiligste en besigste roetes. Vermy gebiede met hoë misdaad of gebiede wat bekend is vir gewapende geweld.
  2. Bly wakker en waaksaam: Bly bewus van jou omgewing terwyl jy bestuur en wees op die uitkyk vir enige verdagte aktiwiteit of individue. Vertrou jou instinkte en as iets nie reg voel nie, tref voorsorgmaatreëls of verander jou roete indien moontlik.
  3. Hou jou deure gesluit: Hou altyd jou voertuig se deure gesluit, veral wanneer jy deur onbekende of potensieel gevaarlike areas ry. Dit sal verhoed dat ongemagtigde of misdadige individue toegang tot jou voertuig verkry.
  4. Vermy stilhou in geïsoleerde gebiede: Indien moontlik, vermy dit om stil te hou in geïsoleerde of swak beligte gebiede, soos verlate paaie of leë parkeerterreine. Probeer om jou stilhouplekke te beplan by goed bevolkte gebiede, soos vulstasies of rusplekke.
  5. Handhaaf ’n veilige afstand van ander voertuie: Wanneer jy bestuur, handhaaf ’n veilige afstand van ander voertuie om vinnige maneuvrering in geval van nood moontlik te maak. Vermy dit om te naby agter ander voertuie te ry, want dit kan jou ’n maklike teiken vir hinderlae maak.
  6. Ontwikkel ’n kommunikasieplan: Maak seker dat jy te alle tye ’n selfoon met ’n vol gelaaide battery by jou het, en stel iemand in kennis van jou reisplanne, insluitend jou roete en geskatte tyd van aankoms. In ’n noodgeval kan jy vinnig hulp ontbied.
  7. Wees voorbereid om te reageer: In die geval dat jou voertuig deur ysterpenne tot stilstand gedwing word en jy deur gewapende booswigte genader word, bly kalm en indien moontlik, probeer so vinnig en veilig moontlik van die bedreiging af wegkom. Moenie die aanvallers konfronteer nie.

Deur hierdie proaktiewe maatreëls te volg en waaksaam te bly terwyl jy in ’n voertuig reis, kan jy die waarskynlikheid verminder dat jy ’n slagoffer van ’n ysterpenlokval en daaropvolgende gewapende hinderlaag word, en jou kanse verhoog om veilig op die pad te bly.

Kaping

Kaping is nie ’n nuwe of unieke probleem vir Suid-Afrika nie.

Kaping is ook nie ’n probleem wat net met ’n geografiese gebied verband hou nie maar is eerder ’n probleem wat met die beskikbaarheid van ’n sekere voertuig verband hou.

So wat kan jy doen om ’n kapingsituasie te vermy?

Eerstens, begin deur voorsorgmaatreëls te tref, soos byvoorbeeld:

  • Wees vertroud met jou omgewing.
  • Weet wie in die omgewing van jou huis of werkplek hoort en wie nie.
  • Hou jou oë oop vir enigiets buitengewoons.
  • Maak alle deure en vensters toe en sluit jou voertuigdeure voordat jy wegtrek.
  • Probeer om jou roete na die werk, die gimnasium, ens. te verander – alle plekke waarheen jy gereeld ry.

Kapers is ook professionele persone; hulle beplan hulle aanvalle noukeurig, en deur jou roetine af te wissel, kan jy hulle planne ontwrig.

Maak seker dat al jou motorspieëls aangepas is om jou ’n optimale, allesomvattende uitsig op jou omgewing te gee.

Probeer om by stoptekens of verkeersligte ongeveer 5 m agter die motor voor jou te stop – dit maak dit makliker om weg te kom as daar probleme opduik.

Tweedens, pasop om nie mislei te word nie. Kapers gebruik gereeld die volgende metodes om hulle slagoffers om die bos te lei:

  • Valse versoeke vir hulp.
  • “Ongelukke”, soos om jou motor van agter te stamp.
  • Iemand probeer om jou hulp vir ’n stilstaande motor te kry.
  • Jou elektriese hek word gestop met ’n obstruksie soos metaal of klippe.

Derdens: Ken jou omgewing

As jy deur ’n vreemdeling genader word terwyl jy in jou motor is, ry weg as dit moontlik is en indien nodig, gebruik jou toeter om aandag te trek.

Wees voortdurend op die uitkyk vir verdagte karakters of voertuie en moenie huiwer om hulle by die polisie, jou buurtwag of sekuriteitsmaatskappy aan te meld nie.

Wees altyd op hoogte van moontlike gevare en wees op die uitkyk vir moontlike ontsnappingsroetes en veilige toevlug langs die pad.

As jou agterdog gewek word deur enige persoon of voertuig in ’n hoërisikogebied, beskou dit as vyandig en doen toepaslike stappe (d.w.s. ignoreer ‘n rooi robot as dit veilig is om deur te ry as jy moet) en vra vir hulp waar nodig.

Hou altyd jou identiteitsdokument en bestuurslisensie en selfoon aan jou persoon.

Indien moontlik, vermy dit om in die donker te ry.

Moet nooit jou voertuigvenster of deur oopmaak vir enige vreemdeling nie. Wanneer jy na jou voertuig loop en ’n verdagte naby jou motor is, moet jy nie die voertuig nader nie. Hou aan loop na die naaste openbare area en vra vir hulp.

Alhoewel daar geen waarborg is dat ’n kaping nie sal plaasvind nie, kan die volgende tegnieke ingeoefen word om die risiko te verminder wanneer jy in jou voertuig klim en terwyl jy bestuur:

  • Hou jou sleutel gereed, maar nie sigbaar nie.
  • Inspekteer die buitekant en binnekant van die voertuig voordat jy oopsluit, indien moontlik
  • Ken jou bestemming en aanwysings, en wees waaksaam as jy verdwaal.
  • Moet nooit met jou selfoon in die voertuig sit en speel nie.
  • Ry altyd met die vensters en deure gesluit en/of toe.
  • Let op na, en hou in gedagte, die ligging van polisiekantore in die omgewing terwyl jy bestuur.
  • Vermy paaie deur onbekende of hoëmisdaadgebiede.
  • Vermy dit om laat in die nag of die vroeë oggendure te ry wanneer die paaie stil is.
  • Ry waar moontlik in die middelste baan, weg van voetgangers.
  • Indien moontlik, moenie alleen ry nie.
  • MOET NOOIT duimgooiers oplaai nie.