AfriForum-Dienstegids
AfriForum is ’n burgerregteorganisasie wat bestaan om Afrikanergemeenskappe te organiseer en in ’n dinamiese netwerk saam te snoer. Sodoende kan gemeenskapskrag ontsluit en gemobiliseer word om bestaande werklikhede te beïnvloed en selfstandigheid te bewerkstellig. Op dié wyse kan ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika help verseker word, terwyl daar terselfdertyd brûe na ander gemeenskappe gebou word op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek.

Privaatvervolgingseenheid
AfriForum se privaatvervolgingseenheid doen presies wat die naam sê – ons vervolg en verseker dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Nasionale Vervolgingsgesag hul plig nakom.
Die stigting van die eenheid was Kallie Kriel se idee en die eenheid het gesorg vir die vestiging van die konsep van privaat vervolging.
Die Suid-Afrikaanse strafregstelsel stort toenemend in duie wat die vestiging van privaatvervolgingsvermoë noodsaak. Daar is geen politieke wil of vermoë om suksesvol te vervolg nie en privaat vervolging of monitering, asook die lei van polisieondersoeke en vervolgings is nou eerder die reël as die uitsondering.
Die eenheid het ’n unieke kantoor met ’n unieke geleentheid om die konsep van privaat vervolging te vestig.
In lyn met die oorhoofse AfriForum-strategie is privaat vervolging die absolute afwenteling van mag van die sentrale regering tot by die individu.
Enigeen is welkom om ’n saak vir oorweging aan die eenheid voor te lê om die meriete van die saak te oorweeg vir ’n moontlike privaat vervolging indien die Nasionale Vervolgingsgesag weens selektiewe vervolging nie met die saak wil voortgaan nie.


Wat bied AfriForum vir my? 

