AfriForum-Dienstegids
AfriForum is ’n burgerregteorganisasie wat bestaan om Afrikanergemeenskappe te organiseer en in ’n dinamiese netwerk saam te snoer. Sodoende kan gemeenskapskrag ontsluit en gemobiliseer word om bestaande werklikhede te beïnvloed en selfstandigheid te bewerkstellig. Op dié wyse kan ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika help verseker word, terwyl daar terselfdertyd brûe na ander gemeenskappe gebou word op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek.
Die nuwe AfriForum-noodknoppietoep
Die AfriForum-noodknoppietoep
AfriForum se noodknoppietoep is ontwikkel om ’n beter belynde diens aan AfriForum-lede te bied. Dié noodknoppietoep, tesame met die koördinering van nooddienste in ’n gesentraliseerde beheerkamer, is ’n ledevoordeel wat deur AfriForum aan sy lede gebied word.
Die noodknoppietoep is met behulp van die jongste tegnologie ontwikkel en lede kan met die gebruik daarvan spesifieke noodalarms in ’n noodsituasie aktiveer.
Wat is die AfriForum-noodknoppie?
- Dit is ’n gebruikersvriendelike, familiegeoriënteerde noodknoppietoep.
- Die AfriForum-noodknoppie kan op jou slimfoon afgelaai word vanaf die toepwinkels Google Play Store (Android) en App Store (Apple).
- Die toep beskik oor spesifieke noodalarms wat AfriForum-lede gratis in ’n noodsituasie kan aktiveer, nl.:
- paniek
- medies
- brand
Vir doeltreffende funksionering van die toep moet jy:
- data op jou slimfoon hê.
- jou slimfoon se liggingsdienste aanskakel.
Wanneer ’n noodalarm in die gesentraliseerde beheerkamer ontvang word, word die persoon in nood gekontak om die noodsituasie te bevestig en telefonies bygestaan deur die beheerkamerpersoneel terwyl die noodsituasie ook na die volgende netwerke verwys word:
- E2, wat funksioneer as ’n ingebedde funksie binne die SAPD se operasionele bevelsentrums en BACSA Nasionale Moniteringsentrum; en
- AfriForum-buurtwagte, wat ’n betroubare gemeenskapsgerigte teenwoordigheid verseker.
Die doeltreffendheid van hierdie diens kan egter nie gewaarborg word nie, maar alles binne die netwerke se vermoë sal gedoen word om op die noodoproep te reageer.
Let daarop dat geen mediese vervoer en geen verbandhoudende mediese dienste deur hierdie voordeel gedek word nie en vir die lid se rekening is.
Meer inligting oor die AfriForum-noodknoppie, die aflaai daarvan, registrasieproses, gebruik van die toep, asook gereelde vrae is op AfriForum se nooddienste-webtuiste beskikbaar.


Wat bied AfriForum vir my? 

