AfriForum-Dienstegids

Wat bied AfriForum vir my?

Ledevoordele

AfriForum Gemeenskapsveiligheid

AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling bemoei hulle daarmee om gemeenskappe meer weerbaar teen die aanslag van die alomteenwoordige misdaadgety in Suid-Afrika te maak. Dit word bereik deur plaaslike veiligheidstrukture (buurt-, plot- en plaaswagte) op die been te bring in gemeenskappe wat die waarde daarvan insien en deel van die oplossing wil wees. Daar bestaan reeds ongeveer 177 sulke strukture onder AfriForum se vaandel. Dié strukture word deur AfriForum se hoofkantoor ondersteun en geniet die volgende voordele:

  • inskakeling by ’n steunkringveiligheidsnetwerk
  • toegang tot ’n nasionale radionetwerk
  • toegang tot radioherleiers
  • regshulp tydens buurtwagaktiwiteite
  • landwye massapatrollies en ander veiligheidsinisiatiewe met duisende ander patrolleerders
  • verlaagde tariewe op voertuignasporing
  • leiding en ondersteuning deur spesialisafdelings en personeel by AfriForum se hoofkantoor
  • inskakeling by AfriForum se nasionale beeld, reputasie en eenheid van poging
  • bedingingsmag
  • toegang tot ’n uitgebreide en dinamiese opleidingsprogram
  • deelname aan en toegang tot ’n inligtingsnetwerk
  • toegang tot buurtwaguitrusting
  • selfstandige veiligheidsvermoë
  • AfriForum 911-noodtoep
  • buurtwag en ander pasgemaakte toepassings en platforms
  • mediadekking
  • toegang tot en leiding oor hommeltuie en ander magsvermenigvuldigers
  • kameraprojekte.

Deur die gemeenskap se betrokkenheid en ondersteuning deur AfriForum se hoofkantoor word gemeenskappe in staat gestel om inligtingsgedrewe inisiatiewe deur proaktiewe optrede van stapel te stuur met die ondersteuning van verskeie magsvermenigvuldigerelemente. Só word misdaad in dié gemeenskappe se onderskeie areas van operasionele verantwoordelikheid doeltreffend die hoof gebied.