AfriForum-Dienstegids
AfriForum is ’n burgerregteorganisasie wat bestaan om Afrikanergemeenskappe te organiseer en in ’n dinamiese netwerk saam te snoer. Sodoende kan gemeenskapskrag ontsluit en gemobiliseer word om bestaande werklikhede te beïnvloed en selfstandigheid te bewerkstellig. Op dié wyse kan ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika help verseker word, terwyl daar terselfdertyd brûe na ander gemeenskappe gebou word op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek.
Interkulturele verhoudings en samewerking
Om ’n veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikanerkinders en die kinders van alle kultuurgemeenskappe te verseker, is goeie verhoudings en samewerking noodsaaklik tussen die verskillende kultuurgemeenskappe wat in die land woon. Die goeie verhoudings en samewerking word gevestig op die grondslag van wedersydse erkenning en respek.
AfriForum se afdeling vir interkulturele verhoudings en samewerking werk daaraan om die Kultuurgemeenskappe-netwerk, wat in Oktober 2025 formeel tot stand gebring is, uit te bou en te versterk. Dié netwerk stel kultuurgemeenskappe in staat om mekaar in sake van gedeelde of spesifieke belang te ondersteun en daardeur gemeenskapselfstandigheid te bevorder.
Die beste manier om wedersydse begrip en goeie verhoudings te vestig, is om projekte saam aan te pak. Gesamentlike projekte word daarom op voetsoolvlak aangepak om ’n gesonde kulturele selfbeeld en gemeenskapselfstandigheid te versterk. Dié projekte fokus op landbou-ontwikkeling (in samewerking met die familieboernetwerk Saai) en die bewaring en uitbou van kulturele identiteit en erfenis.
Vrywilligers wat graag by interkulturele projekte betrokke wil raak, word aangemoedig om met die afdeling te skakel.


Wat bied AfriForum vir my? 

