AfriForum-Dienstegids
AfriForum is ’n burgerregteorganisasie wat bestaan om Afrikanergemeenskappe te organiseer en in ’n dinamiese netwerk saam te snoer. Sodoende kan gemeenskapskrag ontsluit en gemobiliseer word om bestaande werklikhede te beïnvloed en selfstandigheid te bewerkstellig. Op dié wyse kan ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika help verseker word, terwyl daar terselfdertyd brûe na ander gemeenskappe gebou word op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek.
AfriForum Jeug

AfriForum Jeug dien as ’n bymekaarkomplek vir jongmense tussen die ouderdomme van 18 en 30. Die Jeug is deel van AfriForum se gemeenskapsakeafdeling en werk saam met AfriForum se nasionale takstrukture om jeugtakke te stig wat parallel met hierdie strukture bestaan. Só word jongmense aan die organisasie bekend gestel.
Ons streef daarna om veilige bymekaarkomplekke op kampusse en dorpe te vestig waar jong Afrikaners met selfvertroue kan leer, leef en blywende vriendskappe bou. AfriForum Jeug wil jongmense bemagtig om met selfvertroue hulle toekoms in eie hande te neem – om op te staan vir wat reg is, nuwe vaardighede aan te leer en aktief by hulle gemeenskappe betrokke te wees. By AfriForum Jeug beywer ons ons daarvoor om trots op Afrikaanse tradisies en kultuur asook op Christelike waardes te bou. Ons moedig samewerking en goeie verhoudings met ander gemeenskappe en kultuurgroepe aan om ’n inklusiewe en sterk toekoms vir almal te bou.
Ons fokus op sport-, sosiale en ontwikkelingsaksies sowel as veiligheidsopleiding. Ons lê ook sterk klem daarop dat jeugleiers in hulle gemeenskappe moet betrokke raak, eienaarskap moet neem van hulle omstandighede en saam met AfriForum-takke werk om hulle gemeenskappe veilig, skoon en netjies te hou.
Ons nasionale aksies sluit onder meer in:
- Jeugkongres
- Toekomsskeppers
- mentorskapprogram
- Veiligheid101
- Trap vir jou toekoms
- raakrugby.
AfriForum Jeug het ’n groot fokus op kampusse en het daarom kampustakke gevestig op universiteite dwarsoor Suid-Afrika, soos Maties, Kovsies, Pukke en Tuks. AfriForum Jeug tree ook as ’n spreekbuis op vir studente in gevalle waar daar teen hulle gediskrimineer word, hulle van hulle moedertaalonderrig ontneem word en hulle grondwetlike regte geskend word op kampus.
Die behoefte rondom veiligheid op kampusse neem toe en vereis onmiddellike ingryping, en daarom fokus AfriForum Jeug daarop om veiligheidstrukture te vestig sodat studente saam kan werk om hulle omgewing te beveilig.
AfriForum Jeug bou saam met jongmense aan ’n beter toekoms – een wat gegrond is op tradisie, selfstandigheid en hoop. As ons dit nie self gaan doen nie, gaan dit nie gebeur nie. Daarom neem ons eienaarskap van ons toekoms.


Wat bied AfriForum vir my? 

