AfriForum-Dienstegids
AfriForum is ’n burgerregteorganisasie wat bestaan om Afrikanergemeenskappe te organiseer en in ’n dinamiese netwerk saam te snoer. Sodoende kan gemeenskapskrag ontsluit en gemobiliseer word om bestaande werklikhede te beïnvloed en selfstandigheid te bewerkstellig. Op dié wyse kan ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika help verseker word, terwyl daar terselfdertyd brûe na ander gemeenskappe gebou word op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek.
Onderwys

AfriForum se onderwysafdeling is deel van AfriForum se oorhoofse kultuursakeafdeling.
Een van die vernaamste ontstaans- en bestaansredes van AfriForum is om Afrikaanse moedertaalonderrig van gehalte te beskerm en te bevorder.
Aan die een kant beteken dit dat bewusmaking gedoen word om skoolgemeenskappe in te lig oor hulle regte en wat hulle te doen staan wanneer dié regte bedreig word. Aansluitend sorg ons dat ons so ver moontlik aan ouers kennis gee wanneer skoolbeheerliggaamverkiesings voorlê, sodat hulle hulself verkiesbaar kan stel en/of daaraan kan deelneem. Ons verleen ook hulp aan skole sodat oorhoofse probleme met provinsiale skoleplasingsprosesse betyds opgelos kan word.
Die beste vorm van onderrig vir kinders bly moedertaalonderrig – en vir so lank as moontlik. Om dié rede loods AfriForum ook ’n verskerpte moedertaalveldtog genaamd SLIM – Studeer en Leer In jou Moedertaal, wat deurentyd voorspraak maak vir die noodsaaklikheid van Afrikaanse moedertaalonderrig deur middel van akademiese byeenkomste, video’s en meningstukke deur nasionale en internasionale deskundiges. Wanneer standpuntinname nie voldoende is nie, inisieer ons regsaksies teen onderwysregsvergrype.
Buiten regsaksies is die afdeling ook by verskeie leersame aktiwiteite betrokke:
- Ons leer debatteer deur die Dink of Sink onvoorbereidedebatskompetisie vir laer- en hoërskoolleerders, asook universiteitstudente. Die Dink of Sink-debatskompetisie vier ook in 2026 sy 10de bestaansjaar.
- Ons leer leerders emosionele selfstandigheid deur aanbiedings teen boeliery aan te bied by skole – AfriForum Teenboelieveldtog.
- Ons leer entrepreneursvaardighede vir leerders deur Besigheidsbytjieswerkswinkels en Die Korf-reekse op AfriFoum TV
- Ons ondersteun ook die Kobus Wiese-sportreeks, die Super 12-skolereeks, die Bokkieweek en ander kultuurbyeenkomste.
- Verdere ondersteuning aan skole word ook gebied in die vorm van:
- veiligheidsoudits vir skole
- munisipale en omgewingsakebystand
- rampbestuurbeplanning vir skole
- herwinning
- stroming van sport/skoolgeleenthede deur AfriForum TV.
Enigeen is welkom om die onderwysafdeling te kontak oor probleme van dié aard of om meer inligting te bekom by onderwys@afriforum.co.za. Om op hoogte van al die aktiwiteite te bly, kan jy gratis op die afdeling se maandelikse e-posnuusbrief Onderwys onder oë inteken en ook na ons
Onderwys in gesprek-podsending luister op AfriForum se webtuiste, YouTube en Spotify.



Wat bied AfriForum vir my? 

